//
you're reading...
Endurance

Oefening van die Uithouritperd

n Eenvoudige Metode om die Uithourit Perd te Kondisioneer

Francois en Laura Seegers, Perseverance Arabian and Endurance Horses

Francois & Laura Seegers oefen op die strand by Seahorse Eco-Safaris

Ons word dikwels gevra deur mense wat in die uithourit sport belangstel, of wat perde by ons koop, hoe om hulle perde voor te berei vir ‘n uithourit. Daar is baie verskillende metodes om perde te kondisioneer. Goeie metodes het dit in gemeen: stadig begin, geleidelike opbou van afstande gery en later, geleidelike verhoging van oefeningspoed. Te vinnig, te gou, te gereeld, lei uiteindelik tot beserings. Ons het self hierdie eenvoudige program gebruik vir baie jare voordat ons kaalvoet begin ry. Dis ‘n eenvoudige sisteem wat ons 20 jaar gelede by ‘n ander ervare uithourit ruiter in ‘n kursus geleer het toe ons begin het met uithouritte. Die beginsels is ouer as die moderne uithouritsport en verander nie volgens mode nie omdat dit gebaseer is op die fisiologie van die perd. Ons het hierdie metode aan baie mense geleer met goeie resultate. Dit is ‘n metode om die nuweling perd stadig voor te berei vir sy eerste uithourit en om die gesoute uithourit perd ‘n goeie begin aan elke seisoen te gee. Daar is verskeie meer sofistikeerde oefenmetodes wat ons nie in hierdie artikel sal beskryf nie. Nadat die perd deur hierde aanvanklike kondisionering proses is, kan hulle toegepas word. Hierdie eenvoudige kondisionering sal net die uitwerking van latere oefeninge verbeter.

U hoef nie hierdie metode te gebruik nie. Daar is baie kenners in die uithouritsport met hulle eie metodes van fiksmaak. Maar as u nie weet waar om te begin nie, volg die metode gerus, dit is getoets. Dit kan ‘n gesonde nuweling perd voorberei om ‘n 80 km rit stadig te ry (moenie dink om te probeer wen nie – daarvoor is baie meer werk en tyd nodig). Dit bou ‘n goeie fondasie vir fiksheid, wat dan verder ontwikkel kan word. Deur dit voor die aanvang van elke seisoen op dieselfde perd te gebruik, sal daardie perd elke jaar sterker en meer gehard begin.

WAARSKUWING: Die metode is eenvoudig om te verstaan, maar nie maklik om te volg nie, veral Fase 1. Ek verwys na ongeduldigheid. Min mense vind die Stapfase maklik, maar dit is ‘n goeie les in selfbeheer en dus vir die uithourit ruiter meer werd as goud. Onthou, die metode werk net as dit korrek toegepas word. Moenie Fase 1 oorslaan nie.

TERME

  1. Kondisioneer: Om die perd te brei om sterk genoeg te word om uithouritte te ry sonder om skade te ly.
  2. Hardeoefening/ werksessie (workout): Dit behels harde oefening waarin jy die perd vra om meer te doen as waaraan hy gewoond is. Tipies sal jou perd se pols 20 minute na oefening vinniger wees as waaraan jy gewoond is. Dit beteken dat jy die perd gestres het.
  3. Hersteldag: Op hierdie dae sal jy die perd toelaat om te herstel van sy stres. Dinge wat jy kan doen is 20 minute lonseer (ringwerk) op ‘n stadige draf, skool, rustig uitry ens.
  4. Rusdag: Tipies ‘n Sondag. Geen werk nie.
  5. Oefening:Oefening waardeur jy die perd nie stres nie. Jy onderhou net sy fiksheid.

TYDSKALE

Die tye wat dit neem om verskillende liggaamsdele fiks te kry en te kondisioneer, is as volg:

  1. Hart en longe : 3 maande
  2. Spiere : 3-6 maande
  3. Bindweefsel(tendons, ligamente ens.): 6-12 maande
  4. Hoewe: 7 maande
  5. Been : 1-3 jaar

NB! Dus, ‘n perd kan vinnig fiks gemaak word om vinnig te ry, maar sal nog nie gekondisioneer wees om beserings te vermy nie. Eers na drie seisoene van uithourit (mits hy geen ernstige tendon/ligament beserings gehad het nie) sal die perd behoorlik gekondisioneer wees om hard en kompeterend gery te word.

As daar kortpaaie is, het niemand dit nog ontdek nie.

PROGRAM

Die begin van a lang stadige distansie

Begin met LSD (Lang Stadige Distansie)

Die doel is om ‘n bree fondasie van stamina te bou deur lang afstande stadig te ry.

Die verskillende fases definieer die tipe werk wat in die werk sessies uitgeoefen word. Ons beveel aan dat die perd deur al die fases een dag per week in die ring draf (lonseer) en een dag per week geskool word. Werk sessies sal met uitritte plaasvind.

KAALVOETPERDE!

Ons het vir baie jare die program gebruik voordat ons begin het kaalvoet uithourit ry. Dit is geskik vir beslaande perde. Mits die perd kaalvoet gery word, moet die tydsduur van die Fases verleng word om die hoewe kans te gee om aan te pas. Die hoewe word kort gery en benodig meer tyd om uit te groei. Deur die afstande meer geleidelik te verhoog kry die hoef genoeg tyd vir herstel en aanpassing.

Fase 1 (Stapwerk.) duur ses weke lank. (Kaalvoetperde 3 maande)

Doel: Om die perd liggaamlik en psigies voor te berei vir meer intensiewe oefening. Om die perd se bene en tendons te begin kondisioneer. Om spier te bou. Om die perd kalm en gehoorsaam te maak. Om die perd gewoond te maak aan die pad. Om die ruiter selfdissipline te leer!

Lonseerwerk met PSV Jedi

4 of 5 werksessies per week. Bou op tot 2-3 ure se aktiewestap per sessie. Perd moet doelgerig stap en nie drentel nie. Die perd moet leer om behoorlik te stap en nie te drafstap nie. Hy moet op ‘n los teuel leer stap met sy kop laag, nek uitgestrek sodat sy rug vrylik kan swaai om die rugspiere te ontwikkel. Gebruik verskillende terrein – rowwe, klipperige veld, randjies of berge, sand, selfs teerpad vir beperkte afstande. Tydens werk sessies, stap net – perd kan in ring draf, en draf en galop tydens skoling. Gedurende die werk sessie moet die perd net stap, selfs bulte uit moet die perd net stap. Deur rante op ‘n stap uit te klim bou die perd spiere. U sal na ‘n paar weke sien wat ek bedoel. (Wenk: Aan die begin van Fase 1, neem ‘n foto van die perd se boud van agter, trek die stert uit die pad om die binneboud spiere ook te kan sien. Na ses weke neem nog ‘n foto. Vergelyk bespiering.)

Tussenin, 1 dag lonseer, 1 dag skool.

Rus dag opsioneel. Omdat stapwerk lae intensiteit werk is, is ‘n rus dag nie noodsaaklik nie, maar sal ook nie skade doen nie.

Mits u nie genoeg tyd het om so gereeld te ry nie kan ‘n mens eerder mik op ‘n totaal van 48 uur se Stapwerk. Die 48 kry ek van 4 sessies x 2 ure x 6 weke. In die praktyk sal dit die Stapfase verleng, maar u sal die gemoedsrus verkry dat die perd die nodige kilometers en tyd gestap het.

In die laaste 2 weke van Fase 1 kan u kort ente stadig draf tydens die stap sessies in voorbereiding vir Fase 2.

Fase 2 (Drafwerk) duur 4 tot 6 weke. (Kaalvoetperde 3maande)

Doel: Om die perd se stamina te ontwikkel om lang afstande ritmies en op ‘n konstante pas te draf. Om die draf spiere te ontwikkel en die perd ‘n energie-sparende draf te leer. Om die perd te leer om nie net te galop nie, maar op ‘n draf te bly totdat hy gevra word om te galop. Om die ruiter se been spiere fiks te maak om lang afstande op ‘n draf te kan ry. Om die ruiter selfbeheersing te leer. Om die perd fisies voor te berei vir meer intensiewe oefening.

Drafwerk: Abbi Tennant & PSV Liberty, Ashley Gower met PSV Mercury

3 of 4 werk sessies per week Begin stap totdat die perd behoorlik opgewarm is (15-20min) Draf eers stadig en wissel af met stap as perd moeg of uitasem word. Bou geleidelik op totdat die perd aktief kan draf vir 2 ure sonder ophou. Hoe jonger of meer onervare die perd is, hoe meer geleidelik moet die pas verhoog word. Perd moet leer om ontspanne te draf met kop laag, nek uitgestrek en rug gerond. Net só kan hy lang kragtige treë ontwikkel. Die kragtige, afstandvretende honderdmyler draf neem jare om te vervolmaak. Moenie die perd druk vir ‘n vinniger draf nie. Dit sal hom te maklik van balans af en op die voorhand gooi. So ‘n perd hang op die teuels, is moeilik om te stop en te stuur en sit te veel stres op sy voorbene. (Klink dit bekend?) Hou hom eerder ‘n bietjie terug en laat hom sy korrekte balans vind. Soos die perd fikser word sal hy vanself haastig word. Hou hom op ‘n ritmiese draf. (Tel in jou kop: duisend-en-een, duisend-en-twee, duisend-en-drie, … om die ritme te vind) Moet die perd nie toelaat om te galop nie. Perde wat toegelaat is om te galop wanneer hulle wil, ontwikkel nie hulle drafspiere nie. Die perd kan in die skool galop. Gebruik verskillende roetes. Bulte sal meer intensiewe werk wees as platgrond so gee hom herstelkans daarna.

Mits tyd beperk is, kan van die draf sessies vervang word met ‘n ringwerk sessie. Tot 40 minute maximum (5 minute op ‘n stap opwarm nie ingesluit nie) draf in die ring op ritmies pas. 40 min lonseer vervang 2 ure se draf op die pad. Ringwerk is harder werk as padwerk omdat die perd sy liggaam gebuig moet hou wat meer energie verg. Jy kan nie alle padwerk met lonseer vervang nie omdat die perd aan die ruiter se gewig gewoond moet raak en leer om himself te balanseer.

Tussenin, 2 hersteldae: 1 dag lonseer (net 20 min), 1 dag skool.

n Rusdag is noodsaaklik. Ten minste een rusdag per week. Mits die perd nie reg voel nie of sy werksessie energieloos begin, gee hom ‘n paar dae af. Hy mag siek of oorgeoefen wees (nie aangepas vir die werk wat hy doen nie).

NB: Perde verskil baie in werkvermoë. Mits die werklas te swaar is vir jou perd kan u minder sessies per week oefen. Gun sulke perde dan ‘n langer kondisioneringstydperk voordat jy ‘n uithourit aanpak.

Fase 3 (Galopwerk) duur 2 weke of langer (Kaalvoetperde 4 weke of langer)

Galopwerk: Francois Seegers & PSV Platinum

Doel: Om die perd se hart en longe fiks te maak. Om die perd te leer om ritmies en op ‘n konstante pas te galop. Om die lewe te geniet.

2 sessies per week (of 5 sessies in 14 dae) Warm eers op. Begin draf en begin om ente te galop. Wissel galop baie af met draf om melksuur uit die spiere te verwyder. Bou geleidelik op totdat die perd vir ‘n totaal van 1 uur per sessie kan galop met afwisseling van draf vir ‘n totaal van 2uur. Langer ritte kan ook aangepak word. Leer die perd om op ‘n handgalop te ry saam met ander perde. Leer hom ook om ontspanne op sy eie op ‘n lang teuel op ‘n konstante pas te ry (nie maklik met ‘n haastige perdjie nie). Moet nie in die eerste seisoen volspoed galop nie.

Tussenin, 2 tot 4 hersteldae: 1 dag lonseer, 1 dag skool.

Rus dag absoluut noodsaaklik. Een tot 3 rus dae per week. Mits die perd nie reg voel nie of sy werksessie energieloos begin, gee hom ‘n ekstra paar dae af.

Fase 4 (Reserwes bou) duur 1 week

Reserwes bou

Een week voor die uithourit, laat die perd herstel met net ligte werk. Onthou om sy kragvoer te verminder.

D.w.s. Dit behoort jou 3 tot 4 maande te neem (7 maande vir ‘n kaalvoet perd) om voor te berei vir jou eerste stadige 80 km. Jy kan inskryf vir ‘n 30 of 60 km voordat jy die eerste 80 km aanpak om meer ondervinding te kry of om die perd geleidelik gewoond te maak aan lang afstande. Met ‘n nuweling perd kan jy rustig 5 of 6 ure neem om 80 km te voltooi, afhangende van die terrein. Vir die nuweling ruiter om 80 km klaar te maak is ‘n groot prestasie. Vir die ervare ruiter op ‘n nuweling perd is dit ‘n bousteen in die fondasie van die perd se loopbaan. Eers in ‘n perd se derde seisoen kan ‘n mens regtig sien waartoe hy in staat is, in terme van vinnig ry.

BEGINSELS

  1. Bou jou perd geleidelik op tot maksimum werk.
  2. n Stresvolle sessie moet altyd opgevolg word deur ‘n dag van herstel.
  3. Namate jy vinniger en harder werk – moet jy meer hersteldae insit. Terwyl jy nog stap, hoef jy geen dae vir herstel toe te laat nie, maar wel lonseer en skool om jou perd te ontwikkel.
  4. Onthou die beginsel van verbetering is stres en daaropvolgende herstel tot ‘n hoër vlak van fiksheid. Indien geen herstel toegelaat word nie, breek jy slegs af wat jy opgebou het met daaropvolgende beserings a.g.v. swakhede.
  5. Nie meer as 2 harde sessies per week nie.
  6. 1 Totale rusdag per week.
  7. Moenie hard werk op agtereenvolgende dae nie.
  8. Een dag per week lonseer (ringwerk) Stadige ritmiese draf vir +/- 20 minute. Reg gedoen, sal dit gehoorsaamheid, soepelheid, en krag verbeter. Ons galop die jong perd min in die ring weens gevaar van beserings soos aankap of gly en ligamente beseer.
  9. Een dag per week skool jou perd om hom gehoorsaam en soepel te maak.

REKORD HOU

Hou rekord van jou perd se oefening. Monitor die fiksheid en verbetering van die perd oor tyd. Jy moet jou perd se pols kan tel. Gebruik jou hand net agter die perd se linker elmboog, of ‘n stetoskoop of hart monitor. Voor die oefening neem die perd se rustende pols. Meeste perde sal tussen 28 en 48 slae per minuut wees op rus. Leer jou perd se tipiese rustende pols ken, bv. 40. Soos die perd fiks word behoort die rustende pols laer te word, bv. 38 of 36. Buitengewone hoë rustende polse soos 66 dui op opgewondenheid of vrees, of hulle kan tekens wees van pyn of koors soos met koliek of bosluiskoors.

Na die oefening neem die perd se pols, bv. 5 en 10 minute na ophou, om te sien hoe vinnig die pols daal. Hoe fikser die perd hoe vinniger sal sy pols daal. Jy kan dit ook 20 min na ophou neem om ‘n idée te kry van wat die perd se pols by ‘n veeartspunt sou wees. Spoed van oefening, graad van moegheid en weersomstandighede sal herstelpolse beinvloed.

Die beste is om ‘n boek in te vul na elke werk sessie of oefening met ‘n beskrywing van die tydsduur en tipe oefening, polsmetings voor en na oefening en enige opmerkings. Die rekord kan baie goeie inligting gee oor jou perd se vordering. Onder is ‘n voorbeeld.

Ons hoop die inligting was van nut. Mag alles goed gaan met julle kondisionering. Sien julle op die langpad!

Perseverance, Julie 2012

About Perseverance

PERSEVERANCE Arabian & Endurance Horses have special Arabian bloodlines, they have functionally beautiful bodies, and they do endurance barefoot. TEAM PSV: Francois & Laura Seegers, Gurth & Rosemary Walton, Lucy Dixon, Donalyn Hennessy & Ashley Gower. www.endurancehorse.co.za

Discussion

15 thoughts on “Oefening van die Uithouritperd

  1. Baie dankie.

    Posted by rene wessels | 7 August 2012, 1:54 pm
  2. Baie dankie hiervoor. Ek is al lankal opsoek na praktiese uitvoerbare raad en oefenprogram.

    Posted by Marietjie | 7 August 2012, 2:33 pm
  3. ek hou van jul program,ek wil net een ding uitvind,by fase 4 noem jul dat die kragvoer een week voor rit verminder moet word,is dit net die geval by nuweling perde of ervare perde ook?

    Posted by conrad snyman | 7 August 2012, 10:19 pm
  4. Dit geld vir alle perde. Kragvoer word gevoer om energie beskikbaar te maak vir harde oefening. Mits oefening verminder word, soos beskryf in die Fase 4 net voor ‘n rit, word kragvoer ook verminder. Oorvoeding van ryk kosse veroorsaak verskeie probleme in perde, daarom voer die ruiter net wat nodig is. Sekere perde is geneig om te kramp as hulle weer gewerk word narus maar nog steed baie kragvoer eet. Daarom word daardie sindroom “Monday Morning disease” genoem. (Dis nou nie babbelaas soos die menslike vorm nie!) Dit is omdat werkende perde geneig was om op ‘n Maandag te kramp nadat hulle Sondag gerus het, maar nog steeds kragvoer gekry het. Sulke perde het ook dikwels ‘n magnesium tekort.

    Posted by Laura Seegers | 8 August 2012, 9:13 am
  5. Wanneer mens hierdie program klaar voltooi het, en die 80km suksesvol voltooi het, watter program sal mens mee voortgaan om die perd dan net fiks te hou?

    Posted by Marietjie | 8 August 2012, 11:58 am
  6. Please could you post this in english thank you Paul

    Posted by Paul | 9 August 2012, 4:43 pm
  7. Would love this in English please. Thank you.

    Posted by Jenny | 13 August 2012, 5:31 am
  8. Baie dankie vir al hierdie kennis wat julle deel met ons! My man en ek teel arabiere en het onlangs ons perde begin oefen vir uithouritte, my man wil graag ry. Julle artikel kom handig te pas, baie dankie!!

    Posted by Luzan | 18 October 2012, 8:12 am
  9. Hi, dankie vir die program. Wil net iets uitvind kan perd loop en eet terwyl jy dit doen of moet hy stap. En alhoewel ek weet dit gaan van perd tot perd verskil, wat is n goeie stap spoed wat n perd moet handhaaf +-? Beatie

    Posted by Beatie | 18 October 2012, 9:18 pm
    • Die perd moet stap met ‘n doel. Geen drentel of wei langs die pad. Die perd moet kop laag stap sodat sy rugspiere effektief kan werk. 6km/h is ‘n goeie gemiddelde stap spoed vir ‘n Arabierperd. 7 km/h is baie goed. Die perd mag nie “dans” of drafstap nie. Dit is baie goeie dissipline om die perd te leer vinnig stap op ‘n los teuel. Hulle leer om vinnig te stap, maar onspanne sonder ‘n stywe nek.

      Posted by Laura Seegers | 19 October 2012, 10:32 am
  10. Baie dankie vir al hierdie waardevolle inligting . Ek is op die punt om n jong hings te begin oefen. Ek boer in Omaruru – Namibia julle is welkom by ons al julle in hierdie wereld kom, Groete Chris Burger

    Posted by chris burger | 23 March 2014, 6:45 pm

Leave a reply to Laura Seegers Cancel reply